GESKIEDENIS
Die plaas Spitskop, waar Soutpansberg
Bonsmara se tuiste is, lê reg langs die Mara
Navorsingsentrum waar prof. Jan Bonsma met
keurige seleksie en kruisteling die
Bonsmara-ras ontwikkel het vir Suider
Afrikaanse omstandighede.
Soutpansberg Bonsmara is in 2009 geregistreer
nadat die fokus sedert 2006 van Afrikaners en
Simmentalers verskuif het na die Bonsmara-ras.
Hierdie area is boonop bekend as een van die
strafste gebiede vir siektes soos hartwater,
Asiatiese- en Afrika rooiwater en galsiekte en
Bonsmaras is taai geteel om nie net te oorleef nie, maar ook op kommersiële vlak en as teeldiere te presteer. Die einste gehardheid en vermoë om by Afrika se unieke omgewingsuitdagings aan te pas het die Bonsmara as Suid-Afrika se grootste ras gevestig. Die plaas is ook omring deur wildsplase wat in dié omgewing vir natuurliefhebbers, wildtelers en jagters
belangrik is. Maar, wild soos wildebeeste (snotsiekte) en buffels (tuberkulose) hou wel ’n
gesondheidsbedreiging vir beesboere in. Die verspreiding van siektes soos brucellose deur jakkalse is ook ’n moontlikheid waarvoor voorsorg en goeie bestuur nodig is en wat die span van Soutpansberg Bonsmara uitstekend vermag.
Soutpansberg Boerdery bestaan sedert 1995. Die eienaar, Mnr. Louis van der Walt, het sy boerdery aanvanklik net met ’n droom begin. Toeweiding en harde werk het sy droom bewaar en vandag boer hy intensief met aartappels, tamaties en sitrus en natuurlik met Bonsmarabeeste op die plaas Spitskop.
“Ons het reeds vanaf 2011 deelgeneem aan gesamentlike produksieveilings as lid van Tussen-i-Berge Bonsmara en ons eerste eie bulveiling is in September 2015 op die plaas De Ruigte aangebied met groot sukses."
“Ons glo aan kuddediversiteit. Teelmateriaal, gewerf vanaf top, gevestigde telers word in hierdie kudde
gebruik. Toespitsing op kunsmatige inseminasie verseker die Soutpansberg Bonsmara-kudde se
genetiese vordering en -variasie. Die BenguFarm Genetics tellingsbestuurmodule word ook ingespan om
genetiese teeldoelwitte te bereik.”
Alle bulkalwers word aan ’n Fase D-toets onderwerp. Streng seleksie word toegepas en enige bul wat
nie aan die kuddestandaard voldoen nie, al het hy die toets deur gekom, word uitgeskot.
“Ons besef die waarde van goeie vertroue tussen koper en verkoper: eerlike besigheidbeginsels en
goeie dienslewering is die steunpilare waarop Soutpansberg Bonsmara ’n lojale kliëntebasis bou.”